Lesse van ‘n Verdeelde Koninkryk: Deel 1

Inleidende Gedagtes

1 Konings 12:1-19

Om ‘n sinvolle begrip te vorm van hierdie nasionale geskiedkundige gebeurtenis, moet dit binne die konteks  die Koninkryk van God. God se groot verlossingswerk word vertel uit die oogpunt van Sy Koninkryk.

rehIn die reeks blogs ondersoek ons die onderliggende redes vir die verdeling van die koninkryk van Israel onder die heerskappy van Rehabeam in Noordelike en Suidelike koninkryke. Ons kyk na die gebeure wat aanleiding gegee het tot die skeuring van die koninkryk, wat die gevolge was. Die Bybel self spoor ons aan om lewenslesse te leer uit die volksgeskiedenis van Israel. Paulus verklaar dat die Skrif nuttig is om ons op te lei in die regte lewenswyse wat ons sal laat blom in die take wat God vir ons het (2 Tim. 3:16). Hy sê verder dat alhoewel die Ou Testament lank gelede geskryf was, daar ‘n definitiewe doel agter die oorvertelling van Israel se geskiedenis was.  Deur vir ons te vertel wat God gedoen het, kan ons volle vertroue hê in wat die Here in die toekoms gaan doen (Rom 15:4). Die oorlewering van Israel se ervarings dien beide as ‘n waarskuwing uit die verlede en ‘n rigtingsaanwyser vir die toekoms (1 Kor. 10:6, 11). God openbaar Sy doen en late in die geskiedenis van die mensdom, wat uitgeleef word in die arena van die tydelike, aardse en natuurlike. Deur Sy interaksie met die daaglikse doen-en-late van sy volk, onthul God vir ons ewige geestelike realiteite (1Kor. 15:46, 47). Die Ou Testament was die skaduwee van die volheid van wat God wou vestig deur sy Dawidiese Messias-Koning (Kol. 2:17). Laat ons dan in die dieptes van die hartverskeurende historiese verhaal indelf, om te sien watter lesse ons kan leer.

Om ‘n sinvolle begrip te vorm van hierdie nasionale geskiedkundige gebeurtenis, moet dit binne die konteks van die groot oorkoepelende verhaal van die Bybel geplaas word. Meer uitdruklik moet daar gekyk word na die  Koninkryk van God. God se groot verlossingswerk word vertel uit die oogpunt van Sy Koninkryk. Die finale bestemming van die mensdom is nie net hul geestelike heil nie, maar die volle herstel van God se heerskappy oor ons. Die Bybel verklaar dat God in daad en woord bevestig dat Hy daarop uit is om kragdadige uiting te gee aan sy Koninkryk. Die toppunt is die verlossing van die mensdom wat hulle weer onder Sy bevrydende gesag bevind[i]. Die Koninkryk van God is deurslaggewend en sentraal tot alle geopenbaarde waarheid in die Skrif. creationDie mens se hoopvolle verwagting dat God ‘n finale redding teweeg bring word verwoord in die begrip van God se heerskappy[ii]. In die begin het God alles geskep uit niks uit. Dit volg dan dat God van wee sy  soewereiniteit, die reg het om oor Sy hele skepping te heers. God skep die mens na sy beeld en delegeer aan hom die plig om onder Sy heerskappy oor die skepping te heers[iii]. Satan het eers God se regmagtige heerskappy verwerp en toe die mens se voorouers mislei om onafhanklikheid van God te soek. Ons voorouers het dus in opstand gekom teen die regmatige heerskappy van God[iv]. Deur hul rebellie is die hele mensdom gebore in erfsonde en is dan van nature in opstand teen God se Koningskap (Rom. 3:23). Die verlossing van die mens lê in die herstel van God se dinamiese heerskappy oor die mensdom[v]. Die verlossingsgeskiedenis is dus die uitroei van enige teenstand teen God se heerskappy.

israelElke persoon betree die Koninkryk wanneer hulle harte verander van instrumente van weerstand teen God se heerskappy tot ‘n vurigheid vir die dinge van God. Gepaard met elke persoonlike hartsommeswaai word die individu deel van die gemeenskap van God, Sy “ uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom…, die eiendomsvolk van God.” (1 Pet. 2:9). Die volheid van God se redding word ervaar deur deel van ‘n gemeenskap te word wat vir die eer van Sy naam uitgeroep is[vi]. Die volheid van die koninkryk in Israel was sigbaar toe stamlike Israel ‘n verenigde nasie gevorm het. Net so is die volheid van God se heerskappy net bespeurbaar in die uitgeroepte gemeenskap van gelowiges vir Sy wil (Gal. 6:15-16). Individue se gemeenskapslewe vind plaas binne die nasies van die wêreld[vii]. Met die doel van die mensdom se redding voor oë, is die nasies dan van spesiale belang vir God. Die afvalligheid van die mensdom speel af in die rebelsheid van die nasies. Jeremia beskryf hoe die nasies nes die see se rustelose golwe net slyk en modder uitspoel (Jer. 57:20). Die Psalmdigter betreur die onrus tussen die volke en bevraagteken hul beplande opstand teen God se Gesalfde (Ps. 2:1-2). Genesis 11 vertel hoe al die nasies in opstand teen God gekom het by Babel. Die geskiedenis van die mensdom eindig met elke koning wat die knie sal buig voor God (Ps. 72:11).

Die redding van alle nasies het begin met God se keuse van Abraham se nageslag as Sy instrument van verlossing vir die nasies. Die Bybel vertel hoe Abram op soek was na ‘n hemelse vaderland waar God regeer (Heb. 11:16). Die hernoemde Abraham se begeerte is om God se bevrydende heerskappy in die samelewings om hom te sien. crown-wallpaper-9Die soektog na God se heerskappy het daartoe gelei dat hy die hele wêreld sou erf (Rom. 4:13). In Genesis 12 beloof God Abraham dat sy nageslag ‘n groot nasie sal word met die doel om ‘n  seëning vir alle nasies te wees. Die nageslag van Abraham word dan God se verkose werktuig tussen die nasies. ‘n Nasie wat verkies is om alle nasies aan te raak met die verlossingsplan van God. Die belofte word herhaal aan beide Isak (Gen. 26: 3, 5) en Jakob (Gen. 28: 13-14). God bewys sy bevrydingskrag deur die nasionale gode van Egipte te verpletter en Israel uit ballingskap te lei. By Sinai verklaar God Sy rede vir hul verlossing: dat hulle ‘n koninklike nasie van priesters (Eks. 19:6) sal wees wat die Koninryk van God tussen alle nasies moet bemiddel. Die hoogtepunt van Israel as ‘n koninkryk was die bewind van Dawid se seun Salomo.  In die volgende blog sal ons kyk hoe verbondsgetrouheid die volk verenig, terwyl hul ontrouheid aan die HERE lei tot hul tweespalk.

Eindnotas

[i] (Verkuyl 1979:168)

[ii] (Ladd 1981:13-23)

[iii] (Goldsworthy 2001:n.p.)

[iv] (Van Rheenen 1996:21)

[v] (Goldsworthy 2008:4)

[vi] (Fee 1996:1223)

[vii] (Wright 2006:454)

 

Werke Aangehaal

Fee, GD. 1996. Paul, the Spirit and the People of God. Grand Rapids: Baker Academic.

Gaffin, RB 1988. “Kingdom of God.” in New Dictionary of Theology, edited by SB Ferguson and JI Packer. Downers Grove: InterVarsity Press.

Goldsworthy, G 2001. “Kingdom of God.” in Dictionary of Biblical Theology, edited by TD Alexander and BS Rosner. electronic ed. ed. Downers Grove: InterVarsity Press.

Goldsworthy, G. 2008. “The Kingdom of God as hermeneutic grid.” Southern Baptist Joernal of Theology Spring:4-15.

Ladd, GD. 1981. The Gospel of the Kingdom. Grand Rapids: Eerdmans.

Meer, E v. d. 2008. The strategic level spiritual warfare theology of C. Peter Wagner and its implications for Christian mission in Malawi. Pretoria: UNISA.

Reid, DG 1993. “Triumph.” in Dictionary of Paul and his letters, edited by GF Hawthorne, RP Martin, and DG Reid. Downers Grove: InterVarsity Press.

Ridderbos, HN 1996. “Kingdom of God, Kingdom of Heaven.” in New Bible Dictionary, edited by DRW Wood. Downers Grove: InterVarsity Press.

Verkuyl, J. 1979. “The Kingdom of God as the Goal of the Missio Dei.” International Review of Mission 68 168-175.

Williams, JR. 1992. Renewal Theology. Grand Rapids: Zondervan.

 

Advertisements

Die vestiging van die Koninkryk deur die herontdekking van herderskap.

Herderskap was ‘n eerbare beroep regdeur die nasionale bestaan van Israel. Hul volksvaders was herders: Moses, die bevryder en Dawid, die toonbeeld van goddelike koningskap, was beide skaapwagters. Teen die tyd van Jesus se geboorte, toe die skaapwagters die blye boodskap van die Goeie Herder van ‘n engelekoor gehoor het, het die hele beroep egter in onguns verval. Omdat hul herderlike verpligtinge hul weerhou het van die godsdienstige lewe van die gemeenskap, het die Fariseërs geen respek vir herders gehad nie[i]. In rabbynse geskrifte wat na die Nuwe Testament geskryf is, het die rabbis hul kinders ontmoedig om herders te word[ii]. Skaapwagters was beskou as die laagste van die laagste rang in die Romeinse gemeenskap[iii]. Alhoewel die aristokrasie van Jesus se tyd herderskap geminag het, is God se uitverkore Messias ‘n Herder-Koning. In die Bybel is herderskap ‘n hoeksteen van goddelike, gesaghebbende en standvastige heerskappy. Kragtige heerskappy in die Bybel is gegrond op ‘n herdershart[iv]. Die kere wat die volk van God herderskap en heerskappy geskei het, was die volle onthulling van die koninkryk in hul nasionale lewe gestuit. Jesus het uitdruklik wêreldse magstelsels verwerp (Mat. 20:25) en Hy het Sy heerskappy gevestig deur die Goeie Herder te wees (Joh. 10:11).

Gedurende die vyfde eeu het die Kerk (wat van tevore afgesonder was in grafkelders) ‘n bestaan van mag en invloed gevoer in die prag en praal van Romeinse paleise[v]. Gedurende die vorige eeue was die beeld van die Goeie Herder baie gewild in Christelike kunswerke. Tydens dié periode van invloed en weelde tot tydens die Middel Eeue, het die Goeie Herder uit Christenkuns van die Kerk verdwyn. Die skolier Ramsey stel voor dat die nederige Herder eenkant toe geskuif is weens die Kerk se beheptheid met invloed en rykdom . In die kerk se verwysingsraamwerk, het Jesus as ‘n majestieuse Koning die herdersbeeld heeltemal vervang[vi]. Die Kerk het nie meer vervolging geken nie en dus geen nut gehad vir die beskermende beeld van Jesus as die Goeie Herder nie. Die bybelse balans van Christus as beide ‘n Koning en ‘n Herder het verlore gegaan in die Kerk se strewe na mag. Die kerklike heerskappy wat nie getemper is deur ‘n herdershart nie het die Kerk blootgestel aan die korrosie van mag.

Gedurende die Reformasie is die Woord van God herstel as die hoogste gesag in die Christelike lewe. Dit het die gesags- en magstrukture in Europa fundamenteel geskud. Die juk van die Heilige Romeinse Ryk is afgeskud en vervang met selfstandige state. In elke nuwe nasie het die staatshoof onafhanklik besluit watter vorm van Christenskap onder sy gesag beoefen sal word.[vii] Die verdeelde kerke het ‘n bitter stryd gevoer deur middel van dogmatiese geloofbelydenisse. In die struweling vir groter invloed en beheer het dogma self soms die Skrif vervang as die absolute finale gesag vir die geloofslewe van lidmate[viii]. Die vitaliteit van ‘n lewende verhouding tussen die Herder en sy kudde is gesnoei tot ‘n dogmatiese denkwyse. In dié intellektuele magstryd is die hart van herderskap vervang met abstrakte en lewelose spekulasie. Trouheid tot dogma het die kudde van die Here geskei[ix]. Die dinamika van ‘n werklike wandel met die Goeie Herder wat sy kudde lei is vervang met koue-dooie ortodoksie wat die lewensare van die gelowiges verkalk het [x]

In sommige kringe vandag is die kerk die setel van massa-samekomste, e-kerke en ster-predikante met agentskapskerke op verskillende plekke; ‘n korporasie waar die kerkNo sheperds bedryf word deur ‘n uitvoerende hoof met ‘n strewe na ‘n magdom van invloed en weelde. In hierdie klimaat van oorvloed, mag, weelde en sukses het die nederige skaapwagter verdwyn uit die woordeskat van voorstaanders van huidige invloedryke en populêre groeimodelle vir kerke. Andy Stanley die leier van ‘n mega-kerk in Amerika het onlangs in ‘n gepubliseerde gesprek oor leierskap gesê dat hy wens dat die begrip van die herder uit kerke verwyder moet word. Hy sê: ”Jesus het net oor herders gepraat omdat daar een naby in die weivelde was, waarna Hy kon verwys… Dit was ‘n kulturele ding in Jesus se tyd maar is nie vandag meer relevant nie. Dit was iets uniek vir die Eerste Eeu. As Jesus vandag geleef het, sou Hy werklik van herders praat? Glad nie… Teen die einde van Handelinge is die herderskap model eenkant toe geskuif.”[xi]

Die voormalige vise-president van Promise Keepers, E.G. Warner, het kommer uitgespreek dat die kerk besig is om weg te beweeg van ‘n herdersgemeenskap, na ‘n meer hiërargiese korporatiewe model – ‘n gemeenskap waar die plaaslike herder vervang word met bestuurders en onbetrokke uitvoerende hoofde[xii]. Die bekende John Piper betreur die verlies van die profeet in die kerk wat nou vervang word met die professionele bestuurder wat werk volgens hedendaagse sakepraktyke.[xiii] Ongekende besigheidsbestuursmodelle word inforseer in die lewe en funksie van die plaaslike kerk. Sheep BusLidmate wat nie aanpas by die nuwe en verbeterde korporatiewe onderneming nie, word voor die spreekwoordelike bus gegooi. In die woorde van Mark Driscoll van Mars Hill: “Daar is hope dooie liggame onder die Mars Hill bus. Deur God se genade sal dit ‘n berg wees teen die tyd dat ons klaar is. Jy moet òf op die bus klim òf ons gaan oor jou ry”[xiv]. Funksie en prestasievermoëns word in die vreemde magstrukture hoër waardeer as die hart van die Herder. Volgens die moderne korporatiewe denke is die Herder onverskillig as Hy die nege-en-negentig laat staan om agter die een verdwaalde skaap aan te gaan (Mat. 18:12).

In Jesus se tyd was daar menigte sosiale magstrukture. Daar was die politiese invloedryke militêre mag van die Keiser wat gekenmerk is deur weelderige oorvloed. Die Sadduseërs was ‘n eksklusiewe godsdienstige aristokrasie wat die tempel beheer het. Die hoogmoedige Fariseërs was uiters streng in hul godsdienstige uitlewing. Herodus was ‘n onderdanige koning wat homself toegewy het aan die Romeinese heersers.the-lost-sheep.jpg Die Esseners het doelbewus gebreek met die korrupte samelewing in hul aktiewe strewe na heiligheid. Die Selote wou ‘n sosiale ommekeer bewerkstellig deur geweld[xv]. Jesus in sy herderlike ontferming oor die kudde van God ,verwerp al hierdie bewegings, filosofiëe en beheerstelsels. “Toe Jesus na die mense kyk, het Hy ontroerd geraak oor hulle seerkry en weerloosheid. Hulle was soos skape sonder ‘n wagter” (Mat. 9:36 NLV). Jesus is die profetiese vervulling van Miga (5:2-4) se Dawidiese Herder-Koning wat die Koninkryk van God gaan vestig te midde van die mislukking, eensaamheid en verwoesting van die wêreldse koninkryke.

In Mattheus 25:31-33 word Jesus, die majestieuse, almagtige bevelvoerder van die hemelse leërskare, as ‘n skaapwagter uitgebeeld. Esegiël (34:16) voorsien hoe God as herder die wonde van die beseerdes sal verbind en die swakkes versterk. Waar die nasie se herders gefaal het ,sal God as Herder self Sy kudde lei tot vrede en rus. Windmakerige openbare spektakels met selfverheffende gejaag na roem mag die kant van die Ewigheid lei tot groot toejuiging van die wêreld. Tog word die daadwerklike impak wat gemaak kan word op die samelewing gekniehalter deur so ‘n strewe na mag. Beide Matteus en Esegiël beskryf die lakmoestoets vir die openbaring van die volheid van Koninkryk as die weerspieëling van die Goeie Herder se hart. Dit is nie die hoeveelheid godsdienstige aktiwiteite nie. Nog minder is dit godsdienstige kennis of mag, hetsy in die vorm van kerklike gesag of die demonstrasie van wonderbare wonders. Die genadige ingryping van die Goeie Herder is die enigste manier waarop ons gebroke samelewing gelei kan word na die volheid van die Koninkryk[xvi].

In die Bybel word herderskap en heerskappy onafskeidbaar aan mekaar gekoppel (2 Sam. 7:7). God word gereeld as ‘n Herder beskryf (Ps. 23, Gen. 48:15, 49:24; Ese. 43:23). Die Heerser van die Heelal regeer sy eie deur te beskerm en te versorg net soos ‘n herder met sy kudde[xvii]. Jesus as ons rolmodel as ‘n Koning wat heers het gekom om die herderloses te lei (Mark. 6:34). Hy is die Goeie Herder wat bereid is om sy lewe op te offer vir Sy skape (Joh. 10:11; Heb. 13:20; 1 Pet. 2:25; Open. 7:17). Jesus wat die Koninkryk inlyf doen dit as ‘n herder. Sy Groot Opdrag aan Sy dissipels was in die vorm van herderskap. Petrus is aangesê om Christus se skape te voed (Joh. 21:16)[xviii]. Paulus terwyl hy op missie is vir die koninkryk moedig die ouderlinge van Efese aan om as herders die kudde van God te versorg (Hand. 20:28). Petrus sien heerskappy en herderskap as onafskeidbaar verbind tot mekaar (1 Pet. 2:22-25). Toe Jesus in Sy opstanding “kragtig bevestig” (Rom. 1:4) dat Hy wel die Seun van God is, is verlore skape teruggebring na die Goeie Herder (1 Pet. 2:22-25). Met Sy terugkoms sal Hy as Herder op die koninklike troon die wêreld oordeel (Mat. 25:31-33)[xix]. Sy skape moet Sy herdershart weerspieël as die weerkaatsing van die ingelyfde Koninkryk tot Hy as die Hoofherder terug kom om in die volheid van die Koninkryk sy kudde te versorg (1 Pet 5.:4)[xx]. Die hart van heerskappy in die koninkryk is herderskap.

In die Ou Testament is aangeteken hoe die nasionale leiers van Israel hul gefaal het. Hulle het die kudde van God beseer en verswak. Die skape het weggewandel en was dus onbeskermd teen aanvalle (Eseg. 34:16). Die skape was geteister, hulpeloos alleen gelaat en het rigtingloos rondgedwaal (Mat. 9:36). Die profetiese geskrifte van Jesaja, Jeremia en Esegiël wys hoe selfsugtig, genadeloos en wreed die sogenaamde herders was. Israel het die koninkryk verloor weens slegte herderskap [xxi]. Die ballingskap en verspreiding van die volk tussen die nasies word geblameer op die swak herders van Israel (Jer. 10:21, 50:-7; Eseg. 34:1-10)[xxii]. Die slegte herders het die skape gesien as ‘n pad na persoonlike verryking. Hulle het hulself bemagtig deur sonder enige simpatie die skape te misbruik. Die afgryslike gevolge van die wandade van die goddelose skaapwagters was ‘n kudde ontbloot aan die droë woestyn, vyandige roofdiere, hongersnood en dehidrasie[xxiii]. Jesus beskryf hulle as “moeg en hulpeloos” (Mat. 9:36 AFR83).

In Johannes 10 beskryf Jesus in ‘n gelykenis die kenmerke van slegte herders. Hy noem hulle diewe en rowers (Joh. 10:1). In Joodse reg was daar ‘n onderskeid getref tussen ‘n dief en ‘n rower. ‘n Rower sou reisigers weg van die beskawing af aanval. ‘n Dief was nou weer iemand wat by ‘n woning sou inbreek[xxiv]. Jesus beskryf leiers wat tot die skape se nadeel hul eie belange nastreef . Die Fariseërs van Jesus se tyd was net geïnteresseerd in hul eie verryking en welsyn. Volgens Jesus was hulle geldgierig (Luk. 16:14), het weduwees misbruik (Mark. 12:40) en het God se huis omskep in ‘n rowersden (Mat. 21:13). Op die einde het hulle saamgesweer om die Goeie Herder te vermoor sodat hulle hul Romeins gegunde voorregte kon behou (Mat. 21:13). Hulle vergelyk sleg met die Goeie Herder wat sy lewe vir sy kudde afstaan.

Jesus vergelyk slegte herderskap ook met die vreemdeling (Joh. 10:2-5). Selfs met ‘n groot trop skape sou ‘n Joodse skaapwagter byname vir elke skaap gehad het[xxv]. Dit spreek van intieme en persoonlike kennis van elke individuele skaap. Dit is ‘n kenmerk van effektiewe herderskap. Die skape sal nie luister na ‘n vreemdeling nie. Dit sal die vreemdeling se hand forseer om die skape te manipuleer deur onderduimse en onbybelse metodes te gebruik. ‘n Ware herder lei deur verhouding; die skape sien en hoor gereeld die herder. Die laaste voorbeeld van slegte herderskap is die kontrakwerker (Joh. 10:12-13). Die ware skaapwagter is ‘n eienaar wat ‘n daadwerklike verlies sal lei as iets met een van die skape gebeur. Die ware herder se kommer is nie uit blote sentimentaliteit nie, maar is werklik. Jesus as die Goeie Herder het met sy lewe betaal vir sy kudde, dus is die verlies van selfs een skaap ‘n ware verlies vir hom[xxvi]. Die kontrakwerker aan die anderkant is net iemand wat die skape namens iemand bestuur vir ‘n loon. Die skape is nie syne nie en hy is nie verantwoordelik vir enige verlies nie (Eks. 22:13)[xxvii]. Sy motivering is nie primêr die welsyn van die kudde nie, maar om ‘n lonende diens te lewer. Die kontrakwerker se optrede is nie kwaadwillig soos die diewe en rowers s’n nie. Hy deel net nie dieselfde besorgheid oor die skape soos die herder doen nie.

Jesus is die beloofde Dawidiese Herder-Koning. In Sy Bergrede wys hy uitdruklik hoe die valse herders van Israel nie leef volgens die waardes van die koninkryk nie (Mat. 5:20). Soos gesien beskryf Jesus in Johannes 10 hoe die valse skaapwagters die kudde onbeskermd laat, hoe hulle die skape verstrooi en selfs verslind. Later verklaar Jesus dat weens hul vrugtelose onbesorgdheid met God se kudde hulle die koninkryk sal afstaan vir andere wat wel vrugbaar sal wees (Mat. 21:43)[xxviii]. Die Skrif getuig dat die Koning ook ‘n Herder is. Deur nie die hart van God as Herder te weerspieël nie en deur ontroue herderskap, was die Koninkryk verloor. Wanneer die Kerk, òf in die hede òf die verlede, net invloed, welvaart of mag nastreef ten koste van die nederige herder, word die volheid van die Koninkryk prysgegee.

Die Eerste Eeu se Kerk word beskryf as ‘n gemeenskap wat die wêreld omgekeer het (Hand. 17:6); ‘n kerk wat beweeg met die invloed, mag en gesag van die Koninkryk van God. Paulus verklaar dat sy boodskap nie bloot praatjies was nie, maar ‘n kragdadige demonstrasie van die Koninkryk (1 Kor. 2:4, 4:20; Rom. 14:17, 15:19; 2 Kor. 10:4-5; 1 Thes. 1:5). Die profete beskryf die inlywing van God se ewige Koning op die troon van Dawid as ‘n herder wat die verlorenes soek, die swakkes verbind en die siekes genees (Miga 2-5; Eseg. 34-37 & Sag. 9-14). Jesus deur sy gedrag, woorde en dade vertoon die kragtige uitwerking van die Koninkryk in mense se lewens. Jesus het die blindes laat sien, die verlamdes laat loop, melaatses genees, dowes laat hoor, dooies opgewek en die goeie nuus verkondig (Mat. 11:5). Die magtige en wonderbaarlike demonstrasie van die Koninkryk in mense se lewens vloei direk uit die ontferming van die Goeie Herder.

Toe Jesus “die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.” (Ma.t 9:36 AFR83). Die barmhartigheid en kommer van ‘n Herder het gelei tot die vrystelling van die Koninkryk in krag, mag en invloed. Soos Dawid is dit ‘n herder wat vir ewig op die troon van Dawid gaan sit[xxix]. Dit is die hart van ‘n nederige herder wat lei tot die volle openbaring van die Koninkryk. Die Koninkryk word ingelyf deur ‘n Herder-Koning wat die verlore skape soek, die skape beskerm teen gevaar, Homself opoffer vir die skape en hulle lei na groen weivelde en vars water[xxx].

Wanneer die hart van ‘n herder geminag word, is daar ‘n direkte verlies van die volheid van die Koninkryk. ‘n Strewe na mag en invloed ten koste van ‘n herdershart, veroorsaak dat dit wat juis gesoek word, verlore gaan. As die Kerk dus omsien na die kudde van God met die hart van dìe Goeie Herder word die Koningsmag van die Koning weerspieël in ons alledaagse lewe.

Eindnote

[i] (Keener, 1997)
[ii] (Beck, 2011)
[iii] (Keener, 1997)
[iv] (Ramsey, 1983)
[v] (Shelley, 2008)
[vi] (Ramsey, 1983)
[vii] (Shelley, 2008)
[viii] (Conner & Malmin, 1983)
[ix] (Gonzalez, 2005)
[x] (Aaron, 2013)
[xi] (Stanley, 2006)
[xii] (Wagner, 1999)
[xiii] (Piper, 2002)
[xiv] (Preaching Paul)
[xv] (Baker, 1984)
[xvi] (Adams, 2008)
[xvii] (Keener, 1997)
[xviii] (Johnson, 1992)
[xix] (Adams, 2008)
[xx] (Keener, 1997)
[xxi][xxi] (Laniak, 2004)
[xxii] (Keener, 1997)
[xxiii] (Beck, 2011)
[xxiv] (Keener C. , 1993)
[xxv] (Utley, 2014)
[xxvi] (Morris, 1995)
[xxvii] (Keener C. , 1993)
[xxviii] (Elison, 1998)
[xxix] (Chae, 2006)
[xxx] (Johnson, 1992)

Bibliografie

Aaron, D. (2013). The 40 most influential Christians: Who shaped what we believe today. Bloomington: Bethany House Publishers.

Adams, S. (2008). Between text and sermon. Interpretation(July), 304-306.

Baker, K. (. (1984). NIV Study Bible. Grand Rapids: Zondervan.

Beck, J. (2011). Zondervan dictionary of biblical imagery. Grand Rapids: Zondervan.

Chae, Y. (2006). Jesus as the eschatological Davidic shepherd: Studies in the Old Testament. Tubingen: Mohr Siebeck.

Conner, K., & Malmin, K. (1983). Interpreting the Scriptures. Portland: City Bible Publishing.

Elison, S. (1998). Three worlds in conflict: The high drama of biblical prophecy. Colorado Springs: Multnomah Books.

Gonzalez, J. (2005). The story of Christianity: the early church to the present day (vol. 2). Massachusetts: Hendrickson Publishers.

Johnson, D. (1992). Sheperd, sheep. In J. Green, M. S, & I. Marshall (Eds.), Dictionary of Jesus and the Gospels. Downers Grove: InterVarsityPress.

Keener, C. (1993). The IVP Bible background commentary: New Testament . Downers Grove: InterVarsityPress.

Keener, C. (1997). Sheperd, flock. In P. Martin, & P. Davids (Eds.), Dictionary of the later New Testament and its developments. Downers Grove: InterVarsityPress.

Laniak, T. (2004). The leader as sheperd in ancient Israel. ASCOR Newsletter, 54(3), 7-8.

Morris, L. (1995). The New International Commentary on the New Testament: The Gospel according to John. Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Company.

Piper, J. (2002). Brothers, we are not professionals: A Plea to pastors for radical ministry. Nashville: Broadman & Holman Publishers.

Driscoll, M. (Performer). (n.d.). Preaching Paul. [ http://tinyurl.com/pjkbylp%5D. M. Hill.

Ramsey, B. (1983). A note on the disappearance of the Good Shepherd from early Christian art. Harvard Theological Review, 375-378.

Shelley, B. (2008). Church History in plain language (3rd). Nashville: Thomas Nelson.

Stanley, A. (2006). Leader’s insight: Get-it-done leadership. Leadership, 27-28.

Utley, B. (2014). John 10. Retrieved February 13, 2016, from Free Bible Commentary: http://www.freebiblecommentary.org/new_testament_studies/VOL04/VOL04_10.html

Wagner, E. (1999). Escape from Church, INC.:The return of the pastor-sheperd. Grand Rapids: Zondervan.